Stropers ‘n groot gevaar vir ons
ekosisteem
Stropers is stadig maar seker besig om ons natuurlike
erfenis stukkie vir stukkie te vernietig, een spesie op ‘n slag. Dit is nou van
renosters in die Krugerwildtuin, geitjies in die Noord-Kaap, bome in Mosambiek,
perlemoen aan die Kaapse kus tot selfs broodbome in Kirstenbosch, een van die
wêreld se voorste botaniese tuine. Daar word nie net onwettig handel gedryf
nie, maar die ekosisteme word vernietig.
Daar word beraam dat
ongeveer 350 miljoen diere en plante per jaar verkoop word, waarvan 25% van die
verkope onwettig plaasvind. ’n Simpel rede vir die styging in stropery is te
danke aan die toename om wilde diere aan te hou as troeteldiere,tradisionele medisinale
redes of mites. Die Smaug giganteus (Sonkyker akkedis) is ‘n goeie voorbeeld van ‘n
dier wat aangehou word vir ‘n witpoeier afskeiding by sy stert wat vir tradisionele medisyne
gebruik word. Die sonkyker word teen hoё
pryse en soms sonder permitte uitgevoer na lande soos VSA, Europa en Japan.
Renosterhoring, ivoor en tier produkte word baie hoog geag
en beding hoë pryse op die internasionale markte veral in Asië. In Vietnam, het
die nuutste mite dat renosterhoring kanker kan genees gelei tot massiewe
stropery in Suid-Afrika en die prys van renosterhoring so opgestoot dat dit kon
meeding met goud. Gedurende 2014, is in Suid-Afrika alleen ‘n verstommende 1215
renosters deur stropers doodgemaak, dit is een elke agt uur. Maar hoewel renosters
bykans al die media-aandag kry, is hulle verreweg nie die enigste teiken nie.
Regoor Suid Afrika word ons inheemse plante en diere deur
handelaars uit die ekosisteem verwyder sonder om te dink aan die implikasies
wat dit op ons ekosisteme gaan hê. Die ergste is egter dat hulle die
ekosisteem so seermaak dat dit nie maklik is vir die ekosisteem om weer te
herstel nie.
Reptiele, wild, insekte asook vetplante word in die veld
versamel en dan op nasionale en internasionale markte verkoop. Suid-Afrika verloor
byna daagliks gordelakkedisse, verskeie spesies slange soos horing- en
dwergadders, vinkies en papegaaie, skilpaaie van die Weskus, veral die
ploegskaarskilpadjie en verskeie spesies vetplante uit Namakwaland.
Namakwaland is bekend vir sy vetplante en groot
verskeidenheid reptiele. Omdat sekere spesies skaars is en beperkte
verspreidingsgebiede het, is dit baie gesog onder versamelaars. Plante
soos boegoes en kokerbome word ook gereeld uit hul natuurlike habitatte gehaal.
In geldwaarde is dit veilig om te sê dat omgewingsmisdaad die
tweede grootste onwettige bedryf in die wereld is, naas dwelmhandel natuurlik.
Kenners by TRAFFIC, wildlife trade monitoring network, beraam dat die bedryf
honderde miljoene amerikaanse dollars beloop.
Die onwettige handel is die grootste direkte bedreiging vir
die toekoms van baie van die wêreld se mees bedreigde spesies. Daarom is daar
verskeie organisasies wat dit hul misie maak om die handel in plant en diere te
beheer. CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild
Fauna and Flora) is ‘n internasionale ooreenkoms tussen verskeie regerings wat
poog om die bose kringloop van handel in ons spesies te probeer hokslaan. Suid Afrika onderskryf CITES en daarom is dit
onwettig om met bedreigde diere en plantspesies
handel te dryf
Niemand mag sonder 'n geldige permit plante versamel nie.
Die enigste mense wat sonder 'n permit plante op hul grond mag versamel, is die
grondeienaar, sy of haar familie en enige voltydse werknemer met die nodige
toestemming. In die geval van diere mag hulle nie gevang en aangehou word in
hokke of verkoop word as die nodige permit van die natuurbewaringsdiens nie
verkry is nie.
Sou enigiemand hulle skuldig maak aan die onwettige handel
van diere of plante sal hy/sy gearesteer word. In terme van die verskillende
provinsiale wette word die handel in plante en diere as ‘n misdaad geag en kan
vervolg word deur die provinsiale owerhede. Indien skuldig bevind kan jy met 'n
boete of tronkstraf of beide gestraf word.
Een van die beste maniere om onwettige handel aan te spreek
is om die verbruikers te oorreed om ingeligte keuses te maak. Om die mark vir
die spesies te elimineer en om die volhoubare gebruik van hulpbronne die
enigste opsie vir verbruikers te maak.
No comments:
Post a Comment